02-10-2016
Geeswandel is om die deur permanent te laat oopstaan sodat God se Gees nie meer hoef te klop om maaltyd te hou nie!
Dit is ook 'n regstelling van die "default"; van hoe ek reageer in situasies. Ek het nodig om my "fabrieksinstelling"; terug te kry - die gesig van my geboorte!
Daarvoor is selfondersoek nodig - soos ons dit onder andere beoefen met die tafel van die Here.
25-09-2016
Paulus se uitnodiging is dat ons opwaarts aanpas in ons geeslewe en om nie tevrede te wees soos so baie kinders van die Here om net ’n kaartjie hemel toe te hê nie.
Om in die Gees te wandel is veel meer. Dit is om die deur oop te maak – sodat Hy nie meer hoef te klop nie – sodat die salwing van God se Gees deur my kan spoel!
18-09-2016
Jou wandel met God ontstaan uit verhouding. Amos 3:3 Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het? Die twee spreek eers af – julle twee is eers in verhouding voordat hulle in-pas kan kom. Jou verhouding met die Vader manifesteer in jou wandel. ‘n Verdeelde hart is ‘n hart wat flankeer met dit wat die verhouding vertroebel en wat jou sonder gesag los. Mark 3:24+25 – ‘n Koninkryk / huis wat in homself verdeeld is kan nie bly staan nie. Luk 6:49 Daardie huis is op sand gebou en toe die storm daarteen losbreek het dit dadelik geval en die instorting van daardie huis was groot. Hoe raak ek ontslae van ‘n verdeelde hart? Raak ontslae van gemengde saad, raak ontslae van verkeerde denke en voed jou met die waarheid/woord van die geloof en wees wakker vir die leuen en suggestie van die vyand – fokus op die kosbaarste verhouding met die Vader. Jou wandel is ‘n weerspieeling van jou erns met jou verhouding met die Vader. Waarom is jou wandel so belangrik? – Dit is hoe jy God eer, dis hoe jy Sy heerlikheid op aarde is. Sout, lig en die aangename geur vloei deur jou wandel – jyself word daarmee gevul in verhouding. Jy kry dit op geen ander manier nie, dis net by die Fontein van lewende water beskikbaar, al die ander bronne is vervals en dui op gedragsaanpassing.Die effek van die jou verhouding word sigbaar – Fil 1:4 Jy verkwik die harte van ander. “The bowls of the saints are refershed by you, brother.”
28-08-2016
Die mens is ontwerp om met God in pas te wandel. God het die mensdom reg verklaar. Naby jou is die Woord in jou hart en in jou mond. Hy waarborg ons Sy nabyheid. Ver bo wat ons kan bid of dink, kry eers gestalte as ons toetree tot die wandel. Ons moet dus opstaan en uit die gemaksone beweeg.
Beweeg - wandel voor Sy aangesig - Lig dan verdwyn ons eie glans en verkry ons Sy glans - dan is ons in pas - dan kan die wêreld die werk van geloof sien. Dan kom Liefde in aksie - "effortless". Ons fokus is dus nie op ons dade of optrede nie maar om in Sy teenwoordigheid te bly . 'n Gebrek aan teenwoordigheid lei na gebrekkige wandel wat ons ligdraers sonder olie in ons lampe maak.
21-08-2016
God se hart is dat die mens in pas met Hom sal wandel. Daarom het Hy alle afstand oorbrug, uit gekanselleer. Hy het ons liggame gereinig, geheilig sonder vlek of rimpel gewas sodat ons reg is vir Sy Woord. Deur Sy Gees is Sy Woord nou in my hart en in my mond. Hy nooi die mens nou uit om in pas te kom. Om in pas te wees beteken om 'n spieëlbeeld te wees. Jy kan die twee nie van mekaar onderskei nie. Die uitdaging vir ons is, om onsself ons denke ons siel te heilig, af te sonder vir Sy Gees sodat my hart en God se Gees in harmonie kan wees, dan is ons in pas met Hom.
17-07-2016
Noudat ons 'n verbond met God het sovêr dit ons wandel aangaan, kan gesag gevestig word deur ons wandel. Die grondslag daarvan lê in vergifnis. Vergifnis word voltooi in seën! Ons skep ons eie omstandighede deur seën of vervloeking. Kies dan om te seën. - 1 Pet 3:9
10-07-2016
Ons is erfgename van die oorwinningslewe - maar leef ons dit?
Baie gelowiges het 'n verbond met die dood (vormloosheid, 'n substandaard lewe) i.p.v 'n verbond met God rakende my verhouding en wandel met Hom.
03-07-2016
Jesus het met die Vader 'n verbond gemaak oor ons, Sy bruid. Die resultaat was dat ons geregverdig is voor God - eens en vir altyd. Wat ons volmaakte stand voor God betref - dis afgehandel en onveranderlik! Wat ons wandel met God betref is dit 'n ander saak - hier het ons 'n keuse - dit is hier waar God met ons in 'n verbond wil tree. Sy kant van die ooreenkoms is gewaarborg - Hy het by Homself gesweer - om wakker te wees oor Sy Woord (beloftes). Net soos destyds met Abraham het ons egter nodig om Sy verbond te hou - ons kant van die ooreenkoms na te kom om die beloftes in besit te kan neem!
26-06-2016
God se tugtiging (onderwysing) verander nie ons stand voor God nie. Dit is eenmalig vasgelê deur die offer van Jesus. Tugtiging gebruik ons stand om ons wandel daarmee op te lyn. Dit is in die wandel dat gesag finaal bevestig word. Om tugteloos (sonder die konstante inspraak van die Woord) te wees sou my kon stroop van gesag omdat my wandel en stand nie ooreen kom nie.
19-06-2016
Ons kyk steeds na ons wandel wat noodwendig volg as ons die stand regtig verstaan. Daar is 'n verskil tussen kennis en geloof! Sommige mense hoor die goeie nuus van God se geregtigheid as kennis - sal selfs ander daarvan probeer oortuig - die "kennis" hoewel nodig, is egter nie geloof nie. Geloof is wanneer die Gees die kennis vir my openbaring maak. Jakobus sê "geloof" wat nie korresponderende aksie, "werke" produseer nie, het geen waarde nie!